Verenigde Arabiese Emirate

Die Verenigde Arabiese Emirate (Arabies: دولة الإمارات العربية المتحدة‎, Dawlat al-Imārāt al-'Arabīyah al-Muttaḥidah; dikwels afgekort tot VAE), in die omgangstaal ook net Emirate (الإمارات‎, al-Imārāt) genoem, is 'n land in die Midde-Ooste en Wes-Asië. Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) is 'n federasie van sewe emirate – Aboe Dhabi (die grootste), Ajman, Doebai, Fujairah, Ras al-Khaimah, Sharjah en Umm al-Quwain – waarvan elkeen sy eie spesifieke karakter het. Ruolie is die primêre bron van rykdom in die VAE, maar die emirate is besig om hul ekonomieë te diversifiseer. So word onder meer die toerisme- en handelsbedryf massief uitgebrei. Die ekonomiese welvaart het daartoe gelei dat die ou tradisies van die Arabiese kultuur in die VAE met 'n hipermoderne infrastruktuur en 'n kosmopolitiese leefstyl verbind word. Dit het ook baie buitelandse spesialiste en ander werknemers na die VAE gelok sodat die federasie tans 'n vinnige bevolkingsgroei van byna drie persent (soos in 2013) ervaar. Net sowat 'n vyfde van die meer as vyf miljoen Emiratis, soos die inwoners genoem word, is plaaslik gebore. Die VAE het in die laat 20ste en 21ste eeu tot een van die mees dinamiese en hoogontwikkelde ekonomieë ter wêreld ontwikkel en soms word na die federasie as die "Switserland van die Nabye Ooste" verwys. In elk geval word die VAE met ambisieuse projekte en superlatiewe verbind, waaronder die hoogste gebou ter wêreld, die Burj Khalifa, die grootste moskee met plek vir 70 000 gelowiges, die langste voloutomatiese moltreinlyne en kunsmatige eilande soos The World en die palmeilande Palm Jumeirah en Jebel Ali. Doebai en Aboe Dhabi, die twee grootste stede, het tot globale metropole en internasionale lugvaartsentrums ontwikkel, terwyl Emirates, 'n Doebai-gebaseerde lugredery, tot een van die grootstes wêreldwyd gegroei het.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search